3 TOT 7 April 2015

UIT MY RUGSAK

Op 3 April 2015 begin een van die mees spirituele ervarings van my ganse lewe. Op Goeie Vrydag. Dis nogal betekenisvol dat dit juis op hierdie dag moes wees dat ek in Garies opdaag vir ‘n voetslaantog wat my anders na die lewe sou laat kyk.

Wouter en Sonja Jordaan het ons baie gul ontvang by die Garies Toeristestal en dadelik lekker geselsies aangeknoop. Mens het sommer geweet hier gaan jy tuis wees met baie dierbare mense. Hulle het ons soos ‘n goeie hoenderhen wat beskermend oor haar kuikens is, bymekaar gemaak, en mooi aan ons verduidelik waar die bagasie moet wees, hoe die pakkery sou verloop, en dat ons nie haastig moet word nie, want die 80 kilometer na Koringkorrelbaai sou twee ure neem.

En hier is die trant van die hele naweek bepaal, want ons gasheer het ons rit begin met ‘n gebed. Net buite Garies draai die pad af na Hondeklipbaai. En daarna volg ons die weg deur ‘n klompie plase in die twee viertrek kombis en twee Land Cruisers.

Die veld is maar droog, maar die Namakwaland het mos sy eie bekoring. Die droë bossies is soos ‘n belofte van die reënseisoen wat voorlê en die blommeprag wat sou volg. By die hek met die woorde Namakwaland Nasionale Park het die opgewondenheid regtig posgevat en ons was soos wildsbokke wat water ruik. Die see was naby.

Op Koringkorrelbaai aangekom, is die bagasie gou afgelaai en almal het dadelik ‘n dak oor hulle koppe aanmekaargeslaan. Die veld het behoorlik weerklink van die slae soos die tentpenne ingeslaan is. Daar was sagte sand en klipbanke in die mengsel, maar baie gou het die tentjies gestaan en kon ons afsak na die kombuis. Daar was die gesig een van verwelkoming met ‘n vuurtjie wat reeds brand, stoele uitgepak vir net kom sit, en ons gasheer en gasvrou gereed met ‘n glasie sjerrie vir elke gas. Hier sou dit nog baie lekker word.

Kampreëls is gou deurgedraf en ons het geweet uit watter drom om drinkwater te skep, en watter een bevat die waswater. Elkeen kon 2 skeppe water kry, een warm en een koud. Daarmee moes jy skoonkom saans en ek belowe, dis heeltemaal moontlik.

Aandete is ingelui met ‘n tafelgebed en toe volg tipiese weskuskos in die vorm van snoek en patats, potbrood en korrelkonfyt, voorafgegaan deur ‘n lekker skep heerlike warm boontjiesop. En net daar het ek respek gekry vir ons kokke se vermoëns, want alles is op ‘n oop vuur voorberei. Eenkant het ‘n groot swart konka gestaan en borrel met die kookwater vir vanaand se was. En ons beste vriend was ons wasskotteltjie, elkeen met sy eie naam.

Die volgende môre het ons opgestaan in mistige weer met swaar dou, maar die die dou en mis was gou weggebrand. Ons is gefortifiseer vir die 18 kilometer stap wat voorlê met spek en eiers, roosterbrood en konfyt, en lekker koffie en tee.

Ek kan verstaan hoekom die aanbeveling is dat mens maar met ‘n viertrekvoertuig ry, want die paaie is maar sleg. Waar dit nie sinkplaat is nie, lê die sand vir jou en wag, gereed om jou wiele vas te vang.  Maar ons het dit gemaak tot by die plek waar ons voetslanery sou begin. Ons eerste stop was die Spoegriviergrotte. Dis moeilik om die grootsheid daarvan te beskryf, maar dis regtig besonders om te sien hoe die natuur soms huise vorm vir geslagte van duisende jare gelede.  Teetyd daar was baie spesiaal, want mens het amper gevoel as jy opkyk sou daar ‘n man staan met ‘n pylkoker en lendekleed wat vra of jy ‘n slukkie bier wil hê.

Daarvandaan draai ons kus se kant toe en stap oor sagte seesand tot by ‘n interessante rotsformasie wat regtig lyk soos ‘n Engelse polisieman se hoed. Dit staan dan ook bekend as Policeman’s Helmet. So bietjie verder by Swartfontein stop ons teen die see vir ‘n ligte middagetetjie. Daar ontmoet ons toe ook die eerste keer die donkiekarretjies. Ons maak kennis met Oom Dawid en sy kleinseun, Nicolan en hulle 8 donkies. Dis ‘n hele openbaring om met hulle twee te gesels en te luister na hulle lewensstyl wat so drasties van ons s’n verskil.

Na ongeveer 18 kilometer bereik ons die optelpunt en ry huis toe vir ‘n heerlike aandete van potjiekos, rys en gekookte heel droëperskes. Ons eet soos konings en dis goed, want daardie nag beskruip die koue ons dat die hele kleresak naderhand saam slaap binne-in die slaapsak.

Die volgende dag lewer weer ‘n nuwe avontuur op toe ons ‘n robkolonie besoek. Na ‘n stewige ontbyt van mieliepap en muesli en joghurt, met heerlike volgraanmuffins daarby, pak ons die rit aan tot by Strandfontein punt waar die stap sou begin. Daar is ‘n hele paar robgesinne, want daar is klompe kleintjies wat ewe netjies op ‘n hopie sit, nes asof hulle in die skool is. Seker nie gehoor dis nou skoolvakansie nie.  Eerste op die skoolrooster is swemles. Die sand is nie so dik soos gister nie en die natuurskoon asemrowend met die see aan die een kant en die bossieveld anderkant.

Op hierdie stuk strand het ons taamlik uitgedun begin raak, want sommige loop vinniger deur die sand as ander. En dis waar mens jou kop kon skoon kry. Die konsentrasie was die hele tyd op een voet voor die ander sit, nie jou rigting verloor nie, seker maak jy het genoeg water gedrink. Dan is daar nie nog plek in jou brein om aan jou probleme te dink nie.  Die ongeveer 16 kilometer is ‘n baie goeie geleentheid om bietjie te mediteer oor wat positief in mens se lewe is. Dis ‘n gedagte wat elke dag met ontbyt reeds soos ‘n saadjie in jou kop geplant is, want ons gasvrou begin elke dag met ‘n geestelike stukkie wat daarop ingestel is dat mens moet leer om elke dag as ‘n geskenk te ervaar en te doen wat jou hand (en voet) vind om te doen en nie te konsentreer op jou probleme nie.

Daardie aand het daar nog ‘n verrassing op ons gewag. Peter Present het verjaar.  Ons het hom getrakteer op ‘n verjaardagliedjie en ons het ook uitgevind dat Wouter en Sonja, die toerleiers,  hulle huweliksherdenking vier. Nadat Wouter plegtig ‘n kreef aan Sonja oorhandig het as geskenk, was daar koek. Met kersies wat doodgeblaas moes word! Ek het al hoe meer respek gekry vir wat mens in die bundu’s kan vermag.  Gelukkig was ons mae lekker vol van die gebraaide hoender en krummelpap, want die wind was taamlik lastig. Soveel so, dat ons maar groot klippe op die tentpenne gepak het om seker te maak ons word nie die oggend dobberend op die see wakker nie. Die kampvuurstories het natuurlik ook nie agtergebly nie en ons het menige keer dubbel gevou van lag vir al die kwinkslae en vreemde stories wat vir waarheid verkondig is.

Die volgende dag het ons die tog met die voertuie aangepak na Abjoel van waar ons sou stap tot by Groenriviermond. Die plantegroei het hierdie keer meer aandag getrek. Daar groei goedjies wat soms meer soos vingertjies as blare lyk, en as jy jou oog op die grond hou, sien jy werklik dat daar fyn blommetjies ook is. Onse Wouter het op so ‘n interessantheid afgekom. Dit lyk soos ‘n uitgedroogde saat saad en as jy bietjie water daarop drup, vou dit oop en skiet saadjie uit om weer ‘n volgende blommetjie te laat ontstaan.  Mens leer om met nuwe oë te kyk na hoe die natuur vir homself sorg en nie te bekommer oor die dag van môre nie. Dis ‘n les wat ons ook ter harte kon neem.

Aandete is afgeskop met kreefslaai wat ons gasvrou opgetower het uit die krewe-oes van die dag. En toe het ons soos goeie Afrikaners braaivleis en aartappels geëet. En die stories het natuurlik nie agtergebly nie. Vanaand was dit almal werklikhede, wat regtig vreemder as fiksie is, wat aan ons oorvertel is.

En toe breek die laaste dag aan. Skielik is die einde in sig en begin mens wonder of die sterk wind, die min waswater, die dunnerige matrasse en die natgedoude tente nie ‘n baie goeie leefwyse is nie. Die eenvoud begin indruk maak op ons. Ter afsluiting oorhandig ons ‘n blyk van waardering aan die donkiekardrywers en dit laat trane in mens se oë kom as jy sien hoe verskriklik dankbaar hulle is. En ons is op pad terug na ons luukser leefstyle, terwyl hulle wonder hoe die donkie wat seergekry het, vervang gaan word. Die donkies leer mens ook dat jy maar in die pad kan hou wat vir jou uitgesit is, gehoorsaam moet wees aan die drywer se sagte hand, en jy sal orraait wees. Pitte het juis dikwels gevra: “Is jy orraait?” En na die donkiestap kon ons eerlik se: “Ja, ek is.”

Dit was ‘n besonderse ervaring wat afgesluit word met koek en tee by die Toeristestal, en ‘n sertifikaat wat bevestig dat die stap suksesvol voltooi is. Ek dink die sertifikaat is net ‘n stuk papier wat bevestig dat ek ook ‘n spirituele ervaring suksesvol voltooi het.

My oë kyk nou anders, want my kop is anders.

ELNA MALAN

[button title=”Weskus Donkie Stap Inligting” type=”linkbutton” color=”grey-lite” url=”https://www.mcsapw.co.za/wp-content/uploads/2015/05/Weskus-Donkie-Stap-Inligting-2015.pdf” target=”_blank”]

[nggallery id=13]

Categories: HikesJournal

6 Comments

Jaylen · May 14, 2016 at 6:47 am

Miguel / Ya no puedo decir sois, creo que debo decir SOMOS ¡¡¡, porque creo que el todo es más importante que la suma de las partes y, con tanta evidencia artlemngau, será fácil recorrer el camino.

Sarie louw · December 27, 2016 at 12:55 pm

Ek wil graag telefonies met jul in aanraken kom as jul vir my jul nr kan stuur asb -Sarie

Henk · May 11, 2017 at 12:55 pm

WOW dit lyk stunning. Ek kan nie wag wanneer ek en my vrou dit gaan stap in Oktober 2017 nie!

Dankie
Henk

Thelma Fontini · August 16, 2017 at 4:04 pm

Dit lyk na n baie lekker staptog. Kan u my asb voorsien van datums waarop die roete vanjaar nog gestap word.

Groete,

Thelma Fontini

Thelma Fontini · August 16, 2017 at 4:05 pm

Lekker staproete.

Carol. Am Niekerk · January 1, 2023 at 10:05 pm

Be staan die donkie stap roete nog. Vanaf Garies

Leave a Reply

Avatar placeholder

Your email address will not be published. Required fields are marked *